Ons onthou… 

Heil die leser, 

Dit was weer eens 11 November gewees. Wapenstilstandsdag, dié dag in die jaarlikse kalender wanneer die mensdom terugdink aan die ongelooflike slagting in Europa tydens die Groot Oorlog van 1914 tot 1918.

Op 11 November 1918, die elfde dag van die elfde maand, om elfuur die oggend het die wapens stil geword. En op 11 November 1919 het die wêreld vir die eerste keer begin met die tradisie om twee minute van stilte te handhaaf om die slagting in herinnering te roep. Aangrypend. Ek kry nog steeds hoendervleis as ek dit belewe dat dit nog wel gehuldig word. 

Ek het nooit geweet dat dié tradisie – nee, daad van huldiging – ‘n Suid-Afrikaanse oorsprong het nie, totdat ek dit in ‘n Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis werfjoernaal gelees het nie. As militêre geskiedenis jou ding is, dan is dié werfjoernaal ‘n goeie een om te lees. 

Ons onthou. 

Sela. 

Leeuplesier… 

Heil die leser,

Dis terug op die land se rakke… maar glo net vir ‘n wyle. Leeuplesier. No 17.  Lion Lager. “The pride of South Africa”, sê die blurb op die blikkie – weer. Nostalgie in ‘n blikkie – ‘n 440 ml blikkie op die koop toe. Smaak nog steeds soos ek hom onthou, effens minder bitter as sy eweknie, Die Kasteel. Nee,  nie “soeter” as Castle nie, net nie die selfde bitterheid nie. Beslis “gladder” as ‘n ligte Windhoek, my ander dorslesser. Gladder – “Perfectly balanced taste” – ook ‘n blurb op die blikkie, seker geskryf deur ‘n Engelse entoesias wat nie “gladder” in sy taal kan sê nie. Of sy baas wou beïndruk met drie woorde wat betekenisvol klink.

Ek is verras om te sien dat die Leeuplesier se alkohol inhoud net 4% is. My geheue speel dalk parte met my, maar ek onthou hom as met ‘n bietjie meer skop as dít. Sy huidige 4% is dieselfde as Castle se ligte produk. Ja man, Castle Light, as ek hom dan nou op sy Engelse naam moet noem. Ook, op sy eie, en op sy eie manier, ‘n genietlike bier.
Soos ek sê, herinneringe in ‘n blikkie. As ek reg onthou was dit die heel eerste bier wat ek ooit gedrink het! En in vervloë se weermagdae was dít die bier wat verkoop het as die Afrikaanse troepe in die basis was. Die Engelse ouens het hulle Castle gesmaak, maar die Afrikaanse ouens het “Leeuens” gedrink om dors te les as hulle uit die veld gekom het.

Prys? Heng, ek het vergeet om te kyk… 🙂 Die kasregisterstrokie is weggegooi. Maar ‘n winskoop was dit gewis. My tone kriewel, nee – gloei genietlik – en die blikkie is leeg. Die blikkie is nou veilig gemaak om te demonstreer waar die “No 17” vandaan kom.

Ag ja, dit was lekker.

Sela.

En nog ‘n blog is gebore… 

Heil die leser, 

Blogging – werfjoernaal skrywe – is ‘n lekker stokperdjie. Altans, so dink mens voordat jy met een begin. Ek meen, so reken mens as jy dié ding oorweeg, mens kan lekker sit en notas tik oor alles en nog wat, en met sagteware soos WordPress is dit in ‘n jiffy dan het jy iets nuuts in die kuberruimte geplaas. 

As jy eers weggetrek het kom jy gou agter dit is nie só maklik nie… Mens dink maar net dat jy agter jou rekenaar of tablet of met jou spelfoon en wegtrek… Die triek kom in om ‘n idee vol te hou en end uit te volg. En om ‘n hele werfjoernaal te bou uit poste wat op ‘n manier verband hou met mekaar, is ook nie so eenvoudig nie. 

Met dit alles in gedagte, het ek onlangs besluit om nóg ‘n blog te begin. Stoute skoene aantrek, of wat, maar ek het. Dis klaar opgerig, en het al so ‘n handvol poste op. Maar hou asem op, want dis ‘n Engelstalige “blog” eerder as ‘n Afrikaanse werfjoernaal… 

Nou hoe dan nou? Ek kry nie altyd die tyd om eens hier, op die Scribendius werfjoernaal waar ek in my eerste liefde – Afrikaans – te kom skrywe nie, en dan wil ek nog ‘n “blog” ook voer en grootmaak? Ja. Want ek reken ek kan. Ek’s lus daarvoor. 

Alhoewel Afrikaans my eerste taalliefde is, het ek darem ook (nogal) Engels ook onder die knie. Altans, ek reken ek het. Ek meen, kollegas in London het al gevra toe ek laas daar was “We can’t place your accent, what part of the UK are you from?” En dit vir ‘n boerseun wat in St. 7 ‘n volle 29% vir Engels op sy rapport gekry het in die eerste eksamen – en nadat die skool die klas se punte met sowat 8% opgestoot het. 

Ek beplan om baie in dieselfde trant op die blog te skryf as wat ek hier op die Scribendius werfjoernaal doen. Noem dit maar ‘n alles-en-nog-wat blog; kleure en geure van die dag. Aktuele sake. Interessante konsepte waarvan ek konstruksies kan maak, met of sonder steierwerk. 

Die nuwe blog se staanplek, vra jy? Natuurlik: sy naam is “Script and screed” en hy staan by scriptandscreed.wordpress.com

Loer gerus, en laat weet my dan asseblief wat jy dink. 

Sela.   

Nog ‘n kwout wat raak… 

Heil die leser,

Ek is verslaaf aan goeie kwouts. Ja,  dis sekerlik “aanhalings” in Afrikaans, maar ek eweso ook nie die versoeking weerstaan om ‘n bruikbare woord Die Taal in te begelei nie. En in my definisie is ‘n kwout ietwat meer as net ‘n gewone “aanhaling”. ‘n Kwout is ook ‘n gevleuelde woord met ‘n raak boodskap wat mens laat dink.

En wat, dan, is die kwout wat ek op die hart het? Hier’s hy:

Learn from yesterday, live for today, hope for tomorrow. The important thing is not to stop questioning.” ~Albert Einstein

Daar het jy dit. Sewentien woorde. Twee sinne. En ‘n magdom van wysheid en insig wat dit omvat. Dit praat nie net oor  drie dae nie – gister,  vandag en môre – dit ontplooi ‘n tydlyn;’n opbouende progressie. Met die gebruik van drie periodes van een dag lê die skrywer lyne neer wat vêr wyer strek as net dié drie enkele dae – dis nie alleen net periodes van vier-en-twintig uur wat ter sprake is nie. Dis die verlede en die toekoms. Drie epogte.

En dan die knoping van leer en hoop… Dis meer as net ‘n tydlyn wat hier ter sprake is. Leer en hoop in een asem laat die tydlyn die toekoms in styg. Nee, nog meer: dit ontsluit die toekoms. Die tydlyn ploeter nie bloot sleepvoet net voort deur die kalender nie. Dit tel spoed op, leer en hoop maak van die tydlyn ‘n versneller ; ‘n vermenigvuldiger. Dit sê: “die toekoms gaan méér wees as die gister; as die vandag”.

En dan sê Einstein – want dis inderdaad aan hom toegeskryf – prontuit waar die klem lê: “Moenie ophou om vrae te vra nie”.

Vrae. Die handigste, meeste belangrike stukkie kopgoed wat die mens tot sy beskikking het. Vrae – dié sleutels wat onkunde ontsluit tot -kunde van alle aard. Vrae, die gereedskapstuk wat ons tog so min gebruik. En Einstein sê tog vir ons, “dis belangrike goed, dié“.

O, wanneer gaan ons tog die boodskap in dié kwout verstaan? Ek weet nie.

Ek wonder.

Moet net nooit ophou om vrae te vra nie.

Sela

Oor kerngroepe en in groepe

Heil die leser,

Ietwat ondertoe in my werfjoernaal is daar ‘n plasing getiteld “Waarom bestaan organisasies?” waarin ek al die kwessie van die kerngroep – die korporatiewe binnekring – aan die orde gestel het. Maar klaar is ek beslis nie daarmee nie, want oor die jare was daar min dinge in die lewe van organisasies wat my só gefasineer het om dop te hou as kerngroepe en natuurlik ook “in” groepe en “uit” groepe.

Wat is ‘n “kerngroep”?
Die regte kerngroep – dié kerngroep in die organisasie – is nie te vinde op ‘n organogram nie. Dit bestaan nie as ‘n “afdeling” op ‘n spesifieke deel van die struktuur nie. Jy kan nie ‘n lyn om die kerngroep trek nie. Ja, dit is so dat die kerngroep wel lede uit die uitvoerende kommittee sal insluit, maar nie alle lede van die kerngroep is lede van die uitvoerende kommittee nie. Die kerngroep mag iemand in finansies insluit, iemand in bemarking, iemand in verkope, iemand in produk-ontwikkeling – en gewoonlik is die lede redelike senior mense in die organisasie. Mense wat die organisasie kan laat beweeg en veral in die bepaalde rigting wat die kerngroep bevoordeel.

Die kerngroep is gewoonlik redelik stabiel, maar lidskap van die kerngroep verander na gelang van die lede daarvan se behoeftes. As mens oor langer tydskale daarna kyk skuif die grense van die kerngroep ook maar en word ‘in’ lede dalk ‘uit’ lede. Óf die kerngroep kan groei, of daar ontstaan subgroepe en die oorspronklike kerngroep word ‘n super-kerngroep wat deur die invloed van mense wat lede is van albei (kerngroep en subgroep) die bedrywighede van die sub-groepe rig en legitimeer, en ‘n beherende invloed daaroor uitoefen.

Die grootte van die kerngroep
En wat is die omvang – die grootte – van ‘n kerngroep? Wel as ons Robin Dunbar* se werk oor sosiale netwerke in ag neem, kan ons voorspel dat die kerngroep gewoonlik uit tussen 15 en 50 lede sal bestaan, met ‘n gemiddelde ledetal van so in die omgewing van 35 mense – natuurlik afhanklik van die grootte van die organisasie.

In groter organisasies ontstaan daar oor tyd ‘n netwerk van ‘in’ groepe in die organisasie. Die netwerk kan groot wees, maar die kleiner groepe is gewoonlik nie só omvangryk as die ware kerngroep nie. Die kleiner, invloedryke groepe, het gewoonlik toegang tot die kerngroep deur spilfigure wat in beide groepe teenwoordigheid het. Of mens kan dit ook só sien: sekere mense (wat lede is van die kerngroep) bou ‘n volging op van mense wat die spilfigure sien as hekwagte van die kerngroep. Die kleier groepe is afhanklik van die toegang wat die spilfigure hulle bied tot die gunste en gawes van die kerngroep.

Waarom kerngroepe bestaan
Die kerngroep is van die mees noodsaaklike belang vir die ontstaan van enige organisasie. Die entrepreneur omring homself gewoonlik van ‘n baie vroeë stadium met mense wat hy vertrou, en natuurlik voortdurend in sy vertroue neem. Soos wat die organisasie groei, behou die stigter sy netwerk en as die organisasie suksesvol is en hy gelukkig is om aan die stuur van die organisasie te bly, maak hy seker dat die kerngroep in die voorspoed deel… En dis dan ook waar die mag wat die stigtersfiguur – die “**man-in-die-middel” – vandaan kom. Hý** word die uitdeler van welvaaart. Sy ingroep raak afhanklik van die welvaart wat uitgedeel word, en doen alles in hulle vermoeë om die organisasie te laat slaag sodat hulle personlike welvaartstroom nie opdroog nie.

Die spilpersone sien wat die resep tot welvaart is: jy hou die man-in-die-middel gelukkig. En dan pas hulle dieselfde resep toe op die mense wat hulle in die kern plaas. Dit word ‘n uitruil netwerk (“exchange network“). Die man-in-die-middel deel opdragte uit op so ‘n wyse dat dit sy agenda pas, wat belyn is met dié van die man-in-die-middel van die super-kerngroep. En as die opdragte na wense uitgevoer word, versprei hy weer die beloning onder sy volgelinge.

Neem nou in ag dat die netwerk nie op die formele organisasie struktuur sigbaar is nie. Die netwerk het sy nodusse regoor die organisasie – verteenwoordigers wat die belange van die “man-in-die-middel” dien. En so kry die man-in-die-middel die werk gedoen buite die formele organisasie se blokkie-stapel om. En beloning vloei deur die netwerk …

Die beloning
Beloning is ook nie altyd geld wat hande verwissel nie. Trouens, dis baie selde dat geldelike beloning te gereeld hande sal verwissel. Dalk ‘n bonus aan die einde van die jaar, ja, maar die regte beloningseenheid in netwerke is v6er meer subtiel. Mag, en die toegang tot mag is seker die belangrikste beloningseenheid. Dan voorkeur om aan sappige projekte te werk; en ontwikkelingsgeleenthede; of beheer oor skaars hulpbronne – die moontlikhede is ontelbaar, en so uniek soos mense self. Begunstiging en bevoordeling van netwerklede geskied meestal op subtiele en onverwagte maniere.

Is kerngroepe en kerngroep-netwerke ‘n slegte ding vir ‘n organisasie?
Dis te betwyfel of organisasies hoegenaamd kan bestaan sonder kerngroepe en ‘in’ groepe. Groepe sorg dat werk gedoen word wat te lank neem om deur die formele struktuur te vloei. Dit is egter in die wederkerige vloei van patronaatskap en subtiele begunstiging van lede waar die angel in die stert van groepe in organisasies lê…

Dié plasing raak nou té lank, so ek sal later weer daaroor moet pen opneem.

Sela

————–

* Nota aan self: Onthou om iewers in die toekoms ook ‘n plasing te maak oor Dunbar se werk oor die struktuur van sosiale groepe. Baie interessante werk. Vir ‘n lusmaker, soek op die net na: Hill & Dunbar (2003). Social network size in humans.

 

** Noem my maar ‘n feminis, maar nodeloos om te sê, dit kan ewe-eens ook ‘n *sy* wees! So, lees gerus ook maar “vrou-in-die-middel” – ewe geldig.

Wat ‘n Kwout!

Heil die leser,

Vandag, 13 September*, is die herdenking van die geboortedatum van Roald Dahl, die gevierde skrywer van baie kinderverhale. Te veel om op te noem. En toe kom die volgende kwout van hom ook in my inboks te lande:

“Every human bean is diddly and different. Some is scrumdiddlyumptious and some is uckyslush.” (1982  R. Dahl BFG 26) 

Voorwaar ‘n scrumdiddlyumptious kwout, afkomstig uit die Oxford Dictionary se inskrywing vir scrumdiddlyumptious – ‘n woord wat hy nie uitgedink het nie. (Dis eerste keer in 1942 opgeteken, en nie in ‘n Dahl aanhaling nie.)

In teenstelling met sy kreatiewe woordvaardigheid was Dahl se persoonlikheid glo nie so scrumdiddlyumptious nie. Glo ‘n eksentrieke en moeilike mens gewees om mee oor die weg te kom, volgens die inskrywing wat die Oxford Biografiese Woordeboek vandag uitgestuur het op hulle poslys. En teen die einde van sy lewe glo nogal bitter oor hy nie deur Mev Windsor tot ridder geslaan is nie – ‘n eer wat hy glo geglo het hom toekom.

Wys jou net. Wat dit wys, weet ek nie, maar steeds wys dit jou net.

Sela.

—-*—-

* Dahl,  Roald  (1916-1990), gebore 13 September 1916 te Villa Marie, Fairwater Road, Llandaff, Glamorgan. Oorlede 23 November 1990, John Radcliffe Hospital, Oxford. 

(En dan hou ek ook sommer baie van daardie “human bean” in die aanhaling!  :-)) 

Oor Reaksie en Refleksie 

Heil die leser,

Hierdie twee konsepte vorm ‘n interessante teenstelling: reaksie teenoor refleksie. Mens wil dit amper tipeer as “dink teenoor doen“. Beide van die twee is gewoon response op dinge wat gebeur. As iets reaksie uitlok, dan… wel,  reageer mens mos. Trouens, gebeurtenisse dwing mos die “veg-of-vlug” reaksie af. Gebeur iets, dan tree jy op. “Save thyself!” dwing ons ingebore oerreaksie. Kragdadige mense laat mos nie gras onder hulle voete groei nie – hulle tree op.

“Ja”, sê Graham Ward*, adjunk professor in Leierskap aan INSEAD, “maar ons is besig om ‘menslike doeners’ te word”, terwyl ons eintlik menslike wesens (of moet ons dalk sê: “wees-mense”?) moet wees. Hmmm – “human doings” eerder as “human beings“? Wees-mense eerder as doen mense?

Sit dít nou in jou pyp en betrag dit. Overgeset synde: dink daaroor, nee – maak dit iets om oor te reflekteer… En meng jou denktwak dan met dié gedagte: Stephen Covey het ons daarop gewys dat daar ‘n gaping is tussen stimulus en respons. En dis in dié gaping dat refleksie speel.

Ek het nog altyd aan refleksie gedink as dat dit in twee vorme kom: refleksie oor gebeure en refleksie tydens gebeure. Laasgenoemde vereis vlugvoetigheid van denke; dink om te oorleef: op-jou-voete refleksie. Dis dan wanneer die skeidslyn tussen dink en doen vervaag. Dit wat oorlewing verseker.

Die tweede tipe refleksie is die in-jou-kop terugkeer na gebeure – nabetragting, besinning, nadenke – baie keer in die aand as jy nie kan slaap nie – dan wanneer die diep gesprek met jouself plaasvind. Hierdie tipe refleksie het ‘n ander produktiewe waarde as die eerste. Dit vorm en slyp ek verryk jou denke. Dit ís ‘n leerproses; ‘n ontginningsproses; ‘n afrondingsproses. Dit is dié refleksie oor gebeure wat van “human doings” weer “human beings” maak.

Die wees in menslike wese.

Dink nou dáároor.

Sela

—-*—-

* Sien artikel: “Reflective leaders needed for the age of rage”. Graham Ward. http://knowledge.insead.edu/blog/insead-blog/reflective-leaders-needed-fot-the-age-of-rage-4880

Boeke, boeke en nogmaals boeke

Heil die leser,

Ek het die #NetNuus app op my selfoon gelaai. Vanmiddag verskyn dié berig:

“Boeke soos ons dit ken, is hier om te bly! Volgens die Pew-navorsingsentrum het 73% van Amerikaners in die afgelope 12 maande ‘n gedrukte boek gelees – dit bly grootliks onveranderd sedert 2012 toe dit 74% was. Net 6% lees digitaal. – Gizmodo”

Wow! Interessante statistiek. Wat mens laat wonder wat die navorsers se beskrywing van “gelees” is. Want as mens so na die deursneë Amerikaner kyk is dit nie noodwendig sigbaar dat hulle ‘n lesende publiek is nie… [ en ek móét net ‘n glimlaggie by daardie stelling sit!] 🙂 🙂 Om nou bietjie moedswillig te wees: mens wonder of die huidige nar in die Amerikaanse politiek – Donald die Tromp – lees, en of hy net inkleur… 🙂

Ek het ook hierdie naweek weer in ‘n boek geïnvesteer. Ja, boekpryse is so hoog dat mens nie anders kan as om van investering te praat as dit by boeke koop kom nie, maar dan ook sekerlik omdat boeke ‘n mens verryk. Eintlik het ek twee boeke gekoop:

  • WordPress – The missing manual. Tweede uitgawe, deur Matthew MacDonald. Uitgewer: O’Reilly Media, 2014. (Hier is die skakel na die boek se katalogus-bladsy.) En ek is bietjie bekommerd oor daardie “2014” – ietwat oud vir ‘n werk wat ‘n dinamiese sagteware platform soos WordPress wil beskrywe! * (Of reken jy ek kon ‘n beter WordPress handboek aangeskaf het?)
  • Mastery. Deur Robert Greene. Uitgewer: Profile Books Limited, 2012. (Katalogus skakel: https://profilebooks.com/mastery.html). En hy’s ‘n allemintige 336 bladsye – darem bibliografie én indeks ingesluit.

Dis oor die tweede boek – Mastery van Robert Greene – dat ek die meeste opgewonde is! Ek het Greene se The 48 Laws of Power gelees. Wat ‘n boek! Trouens, as ék ‘n boek sou skrywe sou dit iets soos “48 Laws” wees… móét wees!

So ja, as ek bietjie wegraak en nie by my werfjoernaal uitkom nie, is dit omdat ek lees. En as ek geïnspireer voel, mag ek dalk net ‘n tipe van resensie hier kom plaas…

Of, natuurlik (dis nou as ek weer wegraak) – dalk is ek net besig met die ander boek. Want sien, ek wil graag WordPress onder die knie kry. En die Missing Manual is nóg dikker – 596 bladsye! Maar natuurlik lees mens nie ‘n handboek soos dié van hoek-tot-kant deur nie, so daar is hoop! 🙂

So, vir eers…

Sela!

—-

* Ja, ek beskou WordPress as ‘n dinamiese platform, want dit word aktief bestuur. As mens in ag neem dat ons so om-en-by 250 dae van 2016 agter die blad het en dat 2015 natuurlik 366 dae lank was, EN dat die boek sekerlik reeds in 2013 geskrywe is om in 2014 die lig te sien… dan was dit baie dae waarin die ontwikkelaars van WordPress ten goede kon peuter aan die sagteware.

Oor hibernasie en estivasie 

Heil die leser, 

Hibernasie, so sê die mense met dik brille en dikker boeke,  is ‘n ‘winterslaap’. Bere doen dit. Eekhorings ook, en ook sekere reptiele. Gewoonlik volg die hibernasie aan die einde van die somer as die dier genoeg energie gestoor het om die winter te oorleef – met verlaagde metabolisme, natuurlik. Klink lekker, behalwe vir die groot aptyt as jy wakker word in die lente! 

En estivasie*, dan? Dis ook ‘n lang slaap, net in die ander kant van die kalender. ‘n Somerslaap. Kan jy jou dit indink dat iemand regdeur die somer sou slaap? Ek kan nie. .. Behalwe natuurlik as dit ondraaglik warm en onhoudbaar droog is, en dit half onleefbaar word, want dán kan ek my indink sal ‘n somerslapie op ‘n koel, rustige plek net nommerpas wees. 

Beide hibernasie en estivasie het dit in gemeen dat die organisme wat hiberneer of estiveer in ‘n staat van dormansie verkeer. Dit lewe, maar is nie aktief nie. 

Nou wat het dit dan te maak met die herrysing van hierdie joernaal na ‘n handvol jare? Dormansie – dis wat. Die Scribendius blog was dormant, nie oorlede nie. En nou is ek lus om weer iets te sê, en hierdie is net so ‘n goeie plek as wat ‘n nuwe joernaal sou wees om dit te sê. En miskien het die feit dat ek WordPress se app in Google se speelwinkel raakgeloop het ook iets daarmee te doen. 

Weliswaar beteken dit nou nie dat dit ewe skielik hier gaan borrel en bruis nie. Dis immers nie maklik om gevalle leisels weer op te neem nie. So wees op die uitkyk vir ‘n pos of twee per maand (of dalk per jaar…) 

Daar het jy dit nou. 

Sela

—–

* Estivasie – “estivate” (Amerikaanse Engels)  of “aestivate” (Britse Engels). Sien  https://en.wikipedia.org/wiki/Aestivation 

Opvolg: Die krag van woorde

Heil die leser,

Ek’t op 3 Januarie 2008 ‘n pos op my ou blog op iblog (iblog.co.za) gemaak met die titel “Die krag van woorde”. (Die volle plasing verskyn nou HIER op WordPress .)

Kry ek onlangs ‘n redelike surpraais…

Ek Google weer die uitdrukking wat bo-aan my blog staan: “Of all the arts in which the wise excel, nature’s chief masterpiece is writing well.” Die toeskrywing in my mashoof is aan die “Duke of Buckingham”.*

In elk geval, kom ek toe op hierdie artikel (gedateer 21.04.2008) op die Namibiese Republikein se webwerf af, waarin die “Die krag van woorde” -plasing van Scribendius aangehaal is. Eintlik meer as aangehaal — die artikel GAAN oor die Scribendius plasing! Dankie Ronelle Rademeyer! Ek ken jou nie, maar ek’s bly dat die artikel vir jou ‘n inspirasie was.

Sela

——
* Die volle toeskrywing vir die aanhaling is: John Sheffield, First Duke of Buckingham and Normanby**. Essay on Poetry, 1682
**Let wel: “Normanby”, nie “Normandy”. En volgens Wikipedia is daar ‘n hele paar plekke in Engeland wat “Normanby” heet, en dus deel van Sheffield se graafskap kon gewees het. Ek’s nou bietjie te lui om uit te vis presies watter een dit was.